Charles Dickens | |
---|---|
Charles Dickens in New York, 1867 | |
Gebore | Charles John Huffam Dickens 7 Februarie 1812 |
Sterf | 9 Junie 1870 (op 58) Higham, Kent, Engeland |
Nasionaliteit | Verenigde Koninkryk |
Beroep | Skrywer |
Bekend vir | The Pickwick Papers Oliver Twist A Christmas Carol David Copperfield Bleak House Hard Times Little Dorrit A Tale of Two Cities Great Expectations |
Eggenoot | Catherine Thomson Hogarth |
Kinders | Charles Dickens, Jr. Mary Dickens Kate Perugini Walter Landor Dickens Francis Dickens Alfred D'Orsay Tennyson Dickens Sydney Smith Haldimand Dickens Henry Fielding Dickens Dora Annie Dickens Edward Dickens |
Handtekening | |
Charles John Huffam Dickens (7 Februarie 1812 – 9 Junie 1870) was die gewildste Engelse romanskrywer van die Victoriaanse era en een van die gewildste ter alle tye. Dickens het sommige van die Engelse letterkunde se mees ikoniese karakters geskep.
Baie van sy romans het vir die eerste keer as vervolgverhale in tydskrifte verskyn, 'n destyds gewilde formaat. Terwyl ander outeurs dikwels hulle romans voltooi het voordat hulle as vervolgverhale verskyn het, het Dickens gereeld sy episodes tydens publikasie ontwikkel. Hierdie formaat het beteken dat baie van Dickens se episodes of hoofstukke 'n spannende einde het, wat bedoel was om lesers te lok om ook die volgende uitgawe te koop en te lees.[1] Sy romans en kortverhale is steeds uiters gewild - hulle was nog nooit uit druk nie.[2] Dickens se werk is ten nouste verbonde aan sy eie lewe; in sy werk kom naas sterk sosiale bewoënheid 'n meegevoel vir die belaglike en 'n groot belangstelling in misdaad en dood tot uitdrukking
Verskeie outeurs, soos George Gissing en G. K. Chesterton, het Dickens se werke dikwels geprys vir sy meesterlike prosa en sy karakters se unieke persoonlikhede, alhoewel ander outeurs, soos Henry James en Virginia Woolf, hom weer gekritiseer het vir oordrewe sentimentaliteit en ongeloofwaardigheid.[3]